Verlies.

deur Pierre du Plessis

Ons almal loop rond met ’n hart met ’n gat in, van elkeen van ons se harte is daar ’n stukkie weg, gesteel, of het ons ’n stukkie van verloor.

En nie een van ons gaan daardie stukkie terug kry nie.

Ons loop met ’n verlies, dalk is dit ’n verhouding of ’n huwelik wat nie uitgewerk het nie. Dit was moontlik nie jou skuld nie, dalk het jy alles probeer en sy is steeds weg, of dalk is dit jou skuld en jy is die een wat hom seer gemaak het en weggejaag het en stukkend gebreek het, en nou is jy spyt. Dalk het jy gehoop om eendag jou eie kinders te kon hê, maar die tyd het jou ingehaal. Dalk het jy ’n verkeerde loopbaansbesluit geneem jare terug en betaal steeds die prys.

So ek sê ons almal loop met ’n halwe hart.

Ons storie as volgelinge van Jesus sluit swaarkry in, enige geloof wat nie pyn kan hanteer nie moet met groot agterdog hanteer word. Is ons bekendste simbool dan nie die kruis — ’n antieke martel instrument — nie?

Jesus se offer het ons heilig gemaak voor God. Die Engelse woord sacrifice, beteken letterlik heilig, sacri- en te maak, -fice. Dit is juis in hierdie tyd na Paasfees, dat ons as kerk meer bewus daarvan is dat die storie nie geëindig het by die kruis nie, maar dat daar ’n Sondag ook was na die Vrydag. En dat daar ’n heiligmaking plaasgevind het van die hele skepping, ’n skoonmaak en ’n nuwe begin in die persoon van Jesus.

Wanneer ons in ons lewens iets verloor en ons sien dit as ’n offer selfs al was dit onwillekeurig en ons vertrou dat dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het ook in ons bly dan weet ek dat daar ’n skat opgesluit is in die verlies, heel moontlik iets heeltemal onverwags mooi.

Ek los jou met hierdie stukkie uit Laura Schroff se boek An Invisible Thread. Mag jy in hierdie paastyd, iets van die heilig making van ’n offer beleef en ook iets van die onverwagse skoonheid van ’n opstanding.

“All of our stories, as much as they are about anything, are about loss. And, perhaps, they are about what might have been. I wanted happy loving parents who danced waltzes in the living room. I wanted children of my own, desperately. We all want relationships that are healthy and resolved, and sometimes that simply doesn’t happen. But the beauty of life is that inside these disappointments are hidden the most miraculous of blessings. What we lose and what might have been pales against what we have.”


Leave a Comment

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>